Deur Angelique Erasmus en Liesel le Roux
DIE appèlhof in Bloemfontein het verlede Woensdag ’n einde gemaak aan ’n jarelange hofstryd waarin vyf susters geveg het om hul pa se grond buite Oudtshoorn te erf.
Die appelhof het die vyf susters – Trudene Forword, Annelie Jordaan, Elna Slabber, Kalene le Roux en Surina Serfontein – se aansoek egter van die hand gewys en bevind – net soos die hooggeregshof op 10 Augustus 2017 – dat slegs manlike persone die grond mag erf wat oorspronklik aan hul oupagrootjie, Carel de Jager, en oumagrootjie, Catharina de Jager, behoort het.
Carel en Catharina de Jager se testament wat in 1902 opgestel is, spesifiseer dat slegs manlike nakomelinge of seuns hul grond mag erf. Hulle het verskeie plase buite Oudtshoorn besit.
Die susters se pa, Kalvyn, het egter geen manlike erfgename gehad nie.
Ingevolge die testament moes sy grond na sy dood in 2015 aan sy broer, John de Jager, se drie seuns oorgedra word – Bertus, Johan en Arnold.
Hulle drie het die aansoek van die susters in die appèlhof teengestaan.
Die susters het teen die uitspraak van die hooggeregshof geappelleer op grond daarvan dat dit teen hulle as vroue diskrimineer en dat dit daarom ongrondwetlik is. Hulle het ook as alternatief aangedui dat hulle seuns beskou kan word as nakomelinge van hul pa, Kalvyn de Jager.
Die regsverteenwoordigers van die drie De Jager-broers, Christo van der Bergh, sê as die hof die aansoek sou toestaan, sou dit ’n eerste van sy soort gewees het. “Die hof het benadruk dat elkeen testateer-vryheid het – dus kan elkeen bepaal aan wie hy of sy wat bemaak, solank dit net nie goeie waardes (boni mores) oorskry nie.”
Die susters is verteenwoordig deur James King.