9-jarige sterf ná elektriese skok

Bo regs: Die houtpaal is vermoedelik afgesaag en gesteel. Beheico Lamini (9, links) het Sondag doodgeskok nadat hy vermoedelik aan die lewendige kragdraad geraak het. Foto verskaf

’n Negejarige seun, Beheico Lamini, is Sondagmiddag tragies dood nadat hy vermoedelik ’n elektriese skok opgedoen het by Oubokkraal buite Dysselsdorp.

Volgens beskikbare inligting het vyf kinders saam gaan speel toe drie van hulle op ’n beskadigde kragpaal afgekom het. Die kinders het na bewering aan die drade geraak.

Die twee kinders wat nie by die paal was tydens die voorval nie, het later op hul drie maatjies afgekom. Hulle kon daarin slaag om twee van die kinders weer by te bring, maar Lamini kon nie bygebring word nie.

Volgens ’n verklaring van Lt Kol Malcom Potje, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie het lede Sondag, 19 April omstreeks 13:25 by die toneel opgedaag waar die liggaam van die seun gevind is.

“Daar word beweer dat die seun aan ’n elektriese paal geswaai het toe hy geskok het. Die omstandighede rondom die voorval vorm deel van ’n deurlopende ondersoek,” het Pojie gesê.

Die voorval het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Die organisasie Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) het die tragedie verbind met moontlike infrastruktuurmisdaad.

Volgens Leon Campher van OCAC is die kragpaal vermoedelik afgesaag deur booswigte wat die pale steel. “Ons waarsku al lank oor die koop van gesteelde eiendom. Iemand het daardie paal afgesaag, en iemand het dit gekoop. Vandag sit ons met ’n tragedie,” het hy op sosiale media gesê.

OCAC het ook verwys na onlangse voorvalle waar kragpale naby die stadion beskadig is en kabeldiefstal op verskeie plekke plaasgevind het.

Kabeldiefstal is ’n groeiende probleem in Suid-Afrika en hou nie net ekonomiese gevolge in nie, maar skep ook gevaarlike situasies waar lewende drade blootgestel word. Wanneer infrastruktuur beskadig word, kan kraglyne onstabiel raak en ernstige risiko’s vir gemeenskappe – veral kinders – inhou.

Die dood van die jong Lamini het diep hartseer veroorsaak. Hy laat sy ouers, ’n agt maande oue sussie en ’n tweejarige boetie agter.

OCAC het bevestig dat ondersteuning aan die familie gebied sal word en het die gemeenskap versoek om die familie in hul gebede te dra. Die organisasie sal ook Woensdag, 29 April ’n kranslegging hou ter nagedagtenis aan Lamini, en nooi gemeenskapslede om dit by te woon. (ANGELIQUE ERASMUS)