8 jaar vir huisbraak en roof

Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Smartie Town in Oudts­­hoorn wat aan huisbraak en roof skuldig bevind is, is in die streekhof agt jaar tronkstraf opgelê.

Die hof het bevind Theodore May (23) het op 29 Desember 2017 by die woning van Gerhardus Blaauw in Angeline Lekaystraat, Smartie Town ingebreek en ’n “boom box” ter waarde van R489 gesteel.

’n Paar dae later, op 7 Januarie 2018, het hy vir Charles Panza in Langenhovenweg met ’n mes gedreig en van sy fiets ter waarde van sowat R3 000 beroof.

May het talle vorige veroordelings wat volgens streeklanddros Retha Pretorius glad nie die gewenste uitwerking op hom gehad het nie.

Hy was juis onder korrektiewe toesig toe hy die laaste twee misdrywe gepleeg het. Verder het hy die hof probeer mislei met sy getuienis dat hy nie ’n mes by hom gehad het toe hy Panza van sy fiets beroof het nie.

Hy het Panza met ’n mes wat 30 cm lank was, raakgesteek.

Ter versagting van vonnis het die landdros in ag geneem dat die klaer nie ernstige beserings opgedoen het nie en May nog redelik jonk is.

May is reeds vroeër onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.