Verskeie skole, instansies, besighede en selfs die polisie het verlede Donderdag op Mandeladag, 18 Julie 2024, baie harte bly gemaak deur skenkings en bederfpakkies vir inwoners en skole uit te deel.
Die doel van hierdie dag is om ter nagedagtenis aan oud-president Nelson Mandela, 67 minute van jou tyd af te staan en jou medemens of dier te help. Werknemers van Klein Karoo Saad het by die Bongolethu Kindersorgsentrum ingeloer om vir die kinders speelgoed, inkleurboeke, komberse en lekkers te neem. Die kleuterskool het verlede jaar afgebrand en word vanuit die Bongolethu gemeenskapsaal bedryf.
Die dames van die Oudtshoorn Rotariërs het warm mussies, speelgoed en sop in Buffelsdrift uitgedeel aan inwoners wat daar bly en talle kinders se dag so opgekikker.
Laerskool Laurus se Graad 3’s het blikkieskos ingesamel wat hul aan Helpende Hand geskenk het, om aan minderbevoorregtes uit te deel.
Die departement van korrektiewe dienste, tesame met gemeenskapsleier Phillip Seroux het vir kinders by Buffelsdrift Primêr skoolklere, skoene, inkleurboeke en bederfpakkies geneem. Hulle is ook met heerlike sop bederf. Die span het ook by inwoners ’n draai gemaak en kospakkies afgelewer.
Langenhoven Gimnasium se 1ste en 2de Netbalspan het ook hul dag tussen viervoetige vriende spandeer, en die talle honde van die Oudtshoorn Diereherberg met liefde oorlaai. Sterte het behoorlik gewaai van lekkerkry.
Die Cango Wildlife Ranch in samewerking met die Oudtshoorn Toerismeburo en ao’s Du Plessis en Combrink van die Oudtshoorn Polisie het rommel in Rosevalley opgetel en ’n gedeelte mooi skoon gemaak. Hul het sowat 370 sakke rommel opgetel in ’n 250 meter area. Oudtshoorn se uitvoerende Burgemeester, Chris Macpherson het ook ’n draai gemaak om die opruimingspan te ondersteun.
“When a man has done what he considers to be his duty to his people and his country, he can rest in peace.” Nelson Mandela
67 Minute vir Mandeladag
