60-jarige vasgetrek met Mandrax bestem vir Oudtshoorn

TWEE mans het die week in landdroshowe in die Klein Karoo verskyn in verband met groot hoe­veelhede Mandrax-tablette wat die naweek in hul besit gevind is – die een ’n 60-jarige man wat Vrydag in Ladismith vasgetrek is, en die ander ’n 39-jarige wat Sondagaand in Bridgton (Oudts­hoorn) in hegtenis geneem is.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het ’n man Sondagaand weggejaag toe die landelike blitspatrollie hom omstreeks 22:25 by die ingang van die dorp naby Rainbow Motors in Langenhovenweg wou aftrek.

Die blitspatrollie het die man agternagesit en gesien hoe hy ’n plastieksak by ’n venster uitgooi.

Polisiebeamptes kon die man se voertuig in Zebraweg in Bridgton voorkeer.

Hy is op die toneel in hegtenis geneem waarna hy teruggeneem is na die plek waar hy die plastieksak uitgegooi het.
1 039 Mandrax-tablette met ’n straatwaarde van R62 000 is in die sak gevind.

Hy het Dinsdag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op klagtes van die handel of alternatiewelik die besit van dwelms.
In die ander voorval het ’n 60-jarige man Maandag in die Ladismith Landdroshof verskyn nadat 1 010 Mandraxtablette met ’n straatwaarde van R50 000 in sy besit gevind is.

Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is die tablette Vrydag (16 Julie) gevind toe die Ladismith Polisie ’n minibus-taxi deursoek het wat van Kaapstad na Oudtshoorn onderweg was.

Die voertuig is deur die polisie by ’n voertuig-deursoekpunt in Suidstraat gestop.

Die man, een van die insittendes in die voertuig, is op ’n klagte van dwelmhandel in hegtenis geneem nadat die polisie op die tablette in die man se besit beslag gelê het.

Spies sê ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat die dwelms vir verspreiding op Oudtshoorn bestem was.

Deon Meyer berig uit Ladismith dat die saak uitgestel is tot Maandag 8 November en die verdagte borgtog van R3 000 toegestaan is. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "60-jarige vasgetrek met Mandrax bestem vir Oudtshoorn"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*