’N Man van Prins Albert wat skuldig bevind is aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal, en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie is Vrydag, 24 Augustus 2023, in die Oudtshoorn streekhof vir 25 jaar tronk toe gestuur.
Die 31-jarige Denville Hendricks het op 7 Mei 2022 by die woning van sy neef, Graham Hendricks, ’n polisiesersant, ingebreek en sy dienspistool, 15 rondtes ammunisie, twee goue ringe en R50 kontant gesteel.
Volgens die klaer was hy die betrokke oggend saam met sy vrou na ’n begrafnis. Met hul terugkeer het hy gevind dat daar by sy huis ingebreek is.
Die beskuldigde wat in ’n Wendyhuis langsaan die klaer woon, het die vuurwapen die volgende dag teruggebring en gesê dat hy dit in die begraafplaas opgetel het.
Na ’n ondersoek van sowat veertien dae is die ammunisie ook by die beskuldigde gevind waarna hy ook erken het dat hy ’n goue ring aan ene ”Boelie” verkoop het.
Die beskuldigde het in die hof ontken dat hy by sy neef se huis ingebreek het en getuig dat hy die vuurwapen en ammunisie by ’n vriend, Ashley Gertse gekry het.
Hy het egter na sy kruisondervraging op vrae van die landdros erken dat dit nie die waarheid is nie
Die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher het die hof versoek om Hendricks vir lank uit die gemeenskap te neem omdat hy ook al aan moord skuldig bevind is. Hy is meer in die tronk as buite en toon geen berou nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het aan Hedricks gesê dat sy neef sy werk as polisieman kon verloor het en hy in die hof gehuil het toe sy vuurwapen teruggevind is.
“Dit is hartseer om van jou familie te steel,” het die landdros gesê.
Hendricks is vir huisbraak en diefstal tien jaar gevangenisstraf opgelê en vyftien jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. (Deur Garnett Wicomb)