’N 23-JARIGE man het Maandag (17 Mei) in die Ladismith Landdroshof verskyn nadat ’n aansienlike hoeveelheid ammunisie op ’n erf op die dorp gevind is.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, was die ammunisie versteek tussen vullis op die erf.
Pojie sê lede van die Ladismith Vispol-eenheid, bygestaan deur Oudtshoorn se Attakwa K9-eenheid (honde-eenheid) het verlede Donderdag (13 Mei) omstreeks 14:10 op ’n woning in Bosmansingel toegeslaan. Tydens die deursoeking van die huis en erf is die onwettige ammunisie gevind waar dit onder tuinvullis versteek was.
Die verdagte is op die toneel in hegtenis geneem en beslag is gelê op aansienlike hoeveelheid koeëls van verskillende kalibers.
Die verdagte het op ’n klag van die onwettige besit van ammunisie verskyn.
Die bevelvoerder van die Eden Kluster, genl. maj. Oswald Reddy, het die polisielede betrokke geprys. “So ’n hoeveelheid koeëls in die verkeerde hande kan tot verwoesting in ’n gemeenskap lei asook die lewensverlies van onskuldige mense.”
23-jarige vas vir onwettige besit van ammunisie
Van die ammunisie wat in ’n erf in Ladismith gevind is. Foto verskaf