TWINTIG verdagtes is reeds die afgelope week deur die polisie in Oudtshoorn in hegtenis geneem vir dwelmverwante klagtes.
Volgens brig Susan Crafford, stasiebevelvoerder van Oudtshoorn, is die besit en handel in dwelms ’n prioriteit vir die Oudtshoorn Polisie en sal die besit van dwelms nie geduld word nie. Sy het die lede betrokke bedank vir hulle werk.
Volgens kapt Louis Visser, polisiewoordvoerder, het die polisie om omstreeks 20:20 verlede Donderdag (13 Mei) toegeslaan op ’n huis in Lungastraat, Bongulethu nadat hulle inligting ontvang het van moontlike dwelms by ’n woning in Bongolethu. Ses verdagtes is hier in hegtenis geneem nadat die polisie 53 bankies tik en twee vermoedelik gesteelde 48 kg-gassilinders gevind het.
’n Ander inhegtenisname was die van ’n man in Kwamanyanostraat, Bongulethu wat 425 gram dagga en 32 bankies dagga in sy besit gehad het. ’n Weegskaal is ook op die perseel gevind.
Vier verdagtes is ook tydens stop-en-soek-operasies waartydens klein hoeveelhede tik en Mandrax wat gevind is, in hegtenis geneem.
20 op Oudtshoorn vas vir dwelmverwante klagtes
