Deur Angelique Erasmus
’N 18-JARIGE seun van Bridgton is Saterdagmiddag omstreeks 17:00 met ’n mes in Springbokweg doodgesteek.
Angelo Manewil was vroeër vanjaar ’n matriekleerder aan die Hoërskool Môrester, maar hy het na verneem word sedert Maart vanjaar nie weer teruggekeer skool toe nie.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het Angelo na bewering die middag ’n 17-jarige in Springbokweg beroof waarop ’n 39-jarige man tussenbeide wou tree om die 17-jarige te help.
Visser sê Angelo het toe na bewering met ’n mes na die ander twee gesteek, waarna die 39-jarige man homself glo verdedig en
Angelo in die nek gesteek het. Angelo is op die toneel oorlede.
Die 39-jarige man is in hegtenis geneem op ’n klagte van moord, maar sy saak is nie op die hofrol geplaas nie en hy is later vrygelaat.
Die polisie is deur die hof opdrag gegee om verdere verklarings te bekom.