12 skuldig bevind aan roof

Deur Garnett Wicomb
TWAALF van dertien verdagtes wat daarvan aangekla is dat hulle die eienaars van drie spazawinkels in Bridgton van kontant en selfone beroof het, is in die Oudts­hoorn Streekhof aan roof met verswa­rende omstandighede skuldig bevind.

Cheslin Bruintjies, Cordwill May, Pa­trick Malgas, Dawid Swarts , Corné Kammies, Sam Olckers, Numfriano Meyer, Patrick Fortuin, Wayne Johannes, Johan Goliath, Andrew Witbooi en Henry Fortuin is almal op drie klagtes skuldig be­vind terwyl Andrew Esau weens onse­ker- heid oor sy betrokkenheid vrygespreek is.

Streeklanddros Neels Nortje het die beskuldigdes op die getuienis van die kla- e­rs en ’n ooggetuie skuldig bevind. Nie een van hulle het in die saak getuig nie.

Hulle het op 10 Januarie 2017 onder ’n boom op ’n erf in Petunialaan gesit en eers vir Nuzimur Hoque van twee selfone en R150 kontant beroof. Daarna het hulle vir Mir Hussain met ’n stok geslaan en van R4 500 kontant en sy selfoon beroof.

In die derde voorval het hulle vir André van Wyk van R160 en ’n krat bierbottels beroof.

Die landdros het in sy uitspraak die getuienis van die drie klaers sowel as dié van Justin Jansen wat die aanvalle gesien het, as geloofwaardig beskryf. Volgens die landdros het hy nie die idee gekry dat die vier staatsgetuies probeer het om die beskuldigdes vals te beskuldig nie.

“Hul getuienis het grootliks ooreen­gekom, hoewel daar etlike weersprekings was – iets wat te wagte kan wees anders sou dit rooi ligte laat flikker het,” het die landdros gesê.

Hy het ook gesê dit is duidelik dat die verdagtes ’n gesamentlike doel gehad het, naamlik om te roof. Hulle het in al die voorvalle hul slagoffer met wapens omsingel om hulle te intimideer.

Die klaers se getuienisse het mekaar gestaaf. Hulle is aan omvattende onder­vraging onderwerp, en is daar nie by die hof twyfel dat hulle deur die groep beroof is nie.

Vonnisverrigtinge is verlede Donder­dag tot groot ontsteltenis van familielede van sommige van die mans uitgestel om­dat twee van hulle glo tydens die voorvalle in 2017 onder ouderdom was en die Kindergeregtigheidswet in aanmerking geneem moet word.

Daarvoor moet ’n proefbeampte-voorvonnisverslag bekom word het die landdros verduidelik.

Volgens die ontevredenes is die mans al vir twee jaar en sewemaande in aanhouding en doen die staat nie sy huiswerk reg nie. Vonnisverrigtinge is tot 4 Oktober uitge­stel.

Corné Pretorius is die aanklaer, terwyl adv Stoffel Prinsloo vir 10 van die 12 verskyn en Brian Carelse (regshulp­raad) en Vaughen Shone vir die ander twee.