10 jaar tronkstraf vir Prins Albert-hoë

Deur Garnett Wicomb
’n Voormalige kantoorbestuurder van die muni­sipale bestuurder van Prins Albert wat aan ver­krag­ting skuldig bevind is, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn Streekhof 10 jaar tronkstraf opgelê.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging van Richard Franzen (36) gesê die hof kan nie enige dwingende omstandighede vind om af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis nie.

Die hof het bevind dat Franzen in April 2015 ’n 19-jarige hoërskoolleerder in sy huis verkrag het. Hy het haar hande en voete vasgebind, haar geblinddoek en ook ’n lap in haar mond gedruk sodat sy nie om hulp kon skree nie.

Franzen het ter strafversagting getuig dat hy in ’n Christelike huis grootgeword het met waardes en norms. Hy was glo “die gesig van die munisipaliteit” en diep betrokke in projekte om die jeug te bemagtig. Hy het in 2018 bedank omdat dit, volgens hom, “ ’n impak op sy werk” gehad het.

Hy sien om na sy twee dogters omdat sy vrou die enigste broodwinner is. Dinge tussen hulle het egter na sy skuldigbevinding verswak en het sy op ’n keer ’n beskermingsbevel teen hom verkry. “Ons is egter weer versoen” het hy getuig.

Sy regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het die hof vir afwyking van die voor­ge­skre­we vonnis gevra omdat daar wel “substan­tie­we en dwingende omstandighede daarvoor be­staan”. Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het egter gesê Franzen is aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind waarvan die Suid Afrikaanse statistiek die hoogste in die wêreld is. Volgens die landdros is die ver­kragtingsyfer in die hof se be­die­ningsgebied skokkend hoog en sal ’n opgeskor­te of korrektiewe vonnis “skokkend onvanpas” wees.

Franzen het twee vorige veroordelings van aanranding en aanranding om ernstig te beseer. ’n Familielid het tydens vonnisoplegging in die hof inmekaargesak en is huilend uit die hof gehelp.