Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen 13 mans wat na bewering die eienaars van drie spazawinkels in Bridgton van onder andere kontant en selfone beroof het, is na die slotargumente van hul regsverteenwoordigers vir uitspraak in die Oudtshoorn Streekhof uitgestel.
Die beskuldigdes het besluit om nie self in die saak te getuig nie. Cheslin Bruintjies (23) Cordwill May (19), Patrick Malgas (47), Dawid Swarts (32), Corné Kammies (27) , Sam Olckers (35), Ashwill Oosthuizen (33), Numfriano Meyer (18), Patrick Fortuin (21), Wayne Johannes (22), Johan Goliath (39), Andrew Esau (24), Andrew Witbooi (19) en Henry Fortuin (30) staan tereg op klagtes van roof met verswarende omstandighede deurdat hulle glo op 10 Januarie 2017 in Petunialaan, Bridgton die winkeleienaars beroof het. Almal pleit onskuldig.
Die klagte teen ’n veertiende verdagte, Ashwill Oosthuizen, is na ’n ontslagaansoek deur die staat teruggetrek.
Die regsverteenwoordigers van die 13 het vir hul vryspraak gevra omdat hulle van mening is dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie en twyfel bestaan oor die identifisering van die beskuldigdes.
Volgens adv Stoffel Prinsloo, wat namens drie van die beskuldigdes verskyn, is daar te veel weersprekings deur getuies wat tot skuldigbevinding kan lei.
Volgens Brian Carelse van die plaaslike regshulpraad steun die staat op die getuienis van ’n man wat baie lank na die beweerde voorvalle ’n verklaring afgelê het.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius het die hof versoek om al 13 skuldig te bevind soos aangekla.
Streeklanddros Neels Nortje het hierna gesê dat hy tyd nodig het voordat uitspraak gelewer kan word en die saak tot 26 Junie 2019 uitgestel.
Tien van die beskuldigdes bly in aanhouding.