Danny B. Foto verskaf
Deur Wyndham Ewerts
DIE plaaslike musiekvervaardiger Danny B, wat onlangs bekroon is met ’n Kanna-toekenning, beplan om ’n rymklets, dans en sing-kompetisie in verskeie dorpe in die Kein Karoo aan te bied.
Die kompetisie, “Boombox in jou plek”, skop amptelik op 5 Augustus in die Gemeenskapsaal van Ladismith af.
Registrasie is gratis vir groepe en individue wat wil inskryf.
Die toegangsgeld vir toeskouers is slegs R10.
“Hierdie is ’n projek waarmee ons talentvolle hoopvolles ’n geleentheid wil bied om hul vaardighede op ’n groot vermaaklikheidsplatform ten toon te stel.
“Ons besef ook dat daar individue is wat bitter graag ’n loopbaan wil uitkerf in die vermaaklikheidswêreld, maar nie die nodige mentorskap of finansiële ondersteuning het nie en juis daarom wil ons ’n verskil maak,” vertel Danny B.
Danny B’s Entertainment & Productions beoog om in samewerking met Karoo Musiek, die kompetisiewenners en ander uitsonderlik talentvolle deelnemers onder die vlerk te neem en as mentors op te tree ten opsigte van onder meer finansiële bestuur, studioblootstelling, bystand met liedjieskryf , die uitreiking van EP’s en gevorderde dansopleiding.
Oudisies sal in Ladismith, De Rust, Dysseldorp, Knysna, George, Willowmore, Uniuondale en Oudtshoorn gehou word.
Vir verdere inligting kan Danny B geskakel word by 061 601 6370 of stuur ’n e-pos aan dannybprd@gmail.com.