Polisie waarsku teen dié aanlynbedrog

Foto: Kopiereg Die Hoorn

Foto: Kopiereg Die Hoorn

WEES versigtig wanneer jy op die internet of by ’n kitsbank met geldsake te doen het. Dit is vandeesweek die waarskuwing van die Oudtshoorn Polisie nadat twee sake van aanlynbedrog en een saak van kitsbankbedrog by hulle aangemeld is.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is twee voorvalle die afgelope maand aangemeld waar mense bedrieg is wat aanlyn aansoek gedoen het om lenings.

Die sogenaamde leningsfirma waarby hulle geld wou leen, bestaan egter nie.

Nadat die lening kastig goedgekeur is, is die aansoekers aangesê om ’n bedrag te betaal voordat die leningsbedrag beskikbaar sou wees.

Sodra die bedrag egter oorbetaal was, kon die leningsfirma nie weer opgespoor word nie.
“Ons wil die publiek waarsku oor dié tipe bedrog en dat dit nie nodig is om geld te betaal as jy geld wil leen nie,” sê Visser.

Hy het ook gewaarsku teen kitsbankbedrog nadat ’n bedrag van R5 800 verlede Donderdag uit iemand se rekening op Oudtshoorn onttrek is nadat hy probeer geld trek het.

“Die persoon het gedink sy kaart sit in die masjien vas, maar dit blyk dat ’n ander persoon die kaart gevat het, want die geld is onttrek terwyl die man in die bank gaan navraag doen het oor sy kaart.

“Moet onder geen omstandighede dat iemand jou probeer help of jou aandag aftrek by die kitsbank nie.”
Volgens Visser werk mense dikwels saam by ’n kitsbank om iemand te besteel.

“Iemand trek jou aandag af en die ander persoon druk cancel wat jou kaart uit die masjien laat kom. As jy weer terugkyk, is jou kaart weg en kan hulle jou geld trek.”