Deur Liesel le Roux
DE RUST se waterprobleme is binnekort iets van die verlede, sê Chris Koch, waarnemende direkteur tegniese dienste.
Dit was die goeie nuus wat sakelui en ander rolspelers van De Rust verlede Maandagaand ontvang het tydens ’n vergadering met Colan Sylvester, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, en verteenwoordigers van die munisipaliteit.
Koch sê daar is tans genoeg water in die dorp se twee reservoirs – 2 miljoen liter water in die Blomnek- en 300 000 liter water in die De Rust-reservoir – maar dit kan vanweë die abnormale kleur en troebelheid nie gedrink word nie. Munisipale watertrokke lewer drinkwater soos nodig.
Wat die kleur en gehalte tans van De Rust se water betref, oorweeg die tegniese departement tans verskeie voorstelle vir geskikte filtreerders vir die dorp se twee reservoirs en word beoog om dit binne drie weke te installeer. Dié filtreerders is nodig omdat ’n reusebrand in Desember 2016 en vloedwater daarna alle plantegroei wat as natuurlike waterfilter dien, vernietig het. Die waterkwaliteit het nie na die vloed soos in die verlede na normaal teruggekeer nie.
“Plante is tot in hul wortels deur die brand vernietig. Die water vloei nou vinnig en is vuil en daarom is filtreerders nodig.”
Eersdaags word vier boorgate in die Vermaaksrivier gesink om die watervoorrraad vir die Klein Karoo Landelike Waterraad aan te vul wat water lewer aan Dysselsdorp en landelike gebruikers. As voldoende water gevind word, sal die moontlikheid ondersoek word om die skema na De Rust uit te brei. Twee addisionele boorgate word ook noord van De Rust geboor om die Huisrivierbron aan te vul. Koch sê die beplanning rondom die vervanging en vergroting van die hoofwaterpyplyn vanaf die De Rust-keerwal tot by reservoir is reeds vêr gevorder en sal na verwagting einde September 2017 voltooi wees. De Rust ondervind dikwels in die warm somermaande ’n watertekort en dié boorgate behoort ’n groot verskil te maak, sê Koch.