Andrew wen dierekwilt

Andrew Broadway met die pragtige dierekwilt wat hy gewen het. Foto: Liesel le Roux

Andrew Broadway met die pragtige dierekwilt wat hy gewen het. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
’N GROEP dierevriende van Oudtshoorn het ’n indrukwekkende R12 640 ingesamel vir die nood onder diere in die Groter Oudtshoorn! Hulle het dit gedoen met die uitloting van ’n pragtige diere­kwilt wat deur Wilma Smit, ’n Oudtshoorniet en lid van die Outeniqua Kwiltersgilde, gemaak is as haar bydrae tot die dorp se diere.

Die wenner van die kwilt is Andrew Broadway van Oudtshoorn wie se naam Dinsdag tydens ’n formele gelukkige trekkingsgeleentheid uit die name van honderde hoopvolles getrek is.
Die kwilt bestaan uit sowat 140 prentlappies van diere.

Die geld sal hoofsaaklik gaan vir die sterilisasie van diere en in veeartse se rekenings inbetaal word.
Die kwilt het sy ontstaan gehad by ’n geleent­heid wat Marianne Spies, oud-skoolhoof van Principia Kollege, verlede jaar in Februarie vir haar verjaarsdag gereël het. Spies het met haar verjaarsdag gevra dat niemand vir haar moet geskenke koop nie, maar dat elkeen moet dink hoe hulle Oudtshoorn se diere in nood kan ondersteun.

Die groep dierevriende het die week vir Smit bedank vir die skenking van die pragtige kwilt asook vir almal wat hul name op die insamelingslyste geplaas het. Hulle het ook Die Hoorn bedank vir die blootstelling van die projek.