’n AANSOEK van Johnson’s Bricks op Oudtshoorn vir ’n verhoging van elektrisiteitstoevoer na die steenaanleg is verlede week tydens ’n spesiale raadsvergadering van die Oudtshoorn Munisipaliteit terugverwys na die portefeuljekomitees en burgemeesterskomitee van die raad.
Verskeie raadslede het beswaar gemaak teen die goedkeuring van die aansoek totdat ’n volledige besigheidsplan aan die raad voorgelê word.
Raadslede wou weet watter voordele die uitbreiding van die aanleg vir die gemeenskap van Oudtshoorn inhou.
Volgens die voorlegging sal die beplande uitbreiding meer werksgeleenthede skep asook groter inkomste vir die munisipaliteit.
Hendrik Ruiters, portefeuljevoorsitter van gemeenskapsdienste, het gemaan dat die raad nie “wilde besluite” moet neem nie. “Die blaam sal op die raad geplaas word,” het hy gewaarsku.
“Ons kan nie die gemeenskap vir ’n potjie lensiesop verkoop nie,” het Gavin Juthe gesê en voorgestel dat die item terugverwys word.
Henry Tyatya het gesê dat hy nie teen die versoek is nie omdat talle besighede op die dorp hul deure sluit en mense hul werk verloor. Volgens hom moet voorstelle wat meer werksgeleenthede bied ernstig oorweeg word.
Die voorlegging van Johnson’s Bricks is egter nie volledig nie.
Die uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, het gesê daar is geweldige druk op die ekonomie van die dorp en dat die raad sy inkomste sal moet balanseer.
Die bykomende inkomste met die uitbreiding van die steenaanleg kan nie deur die raad versmaai word nie.
Die aangeleentheid is ná ’n koukus op aanbeveling van die direkteur van gemeenskapsdienste, Thomas Matthee, wat tans as munisipale bestuurder waarneem, terugverwys vir ’n meer volledige voorlegging en besigheidsplan. (Deur Garnett Wicomb)
Steenaanleg moet sakeplan indien om groen lig te kry
