Breë glimlagte vir polisie

LEDE van die Oudtshoorn Polisie se C-skof het Donderdag 140 kinders by Eljada-Kairos Skool verras met lekkergoedpakkies.

Die kleurvolle pakkies het lekkernye soos suigstokkies, skyfies en tot ysies bevat, perfek vir die Oudtshoorn-hitte.

Volgens Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die lede met hierdie inisiatief vorendag gekom nadat hulle betrokke was by die soektog van ’n doofstom kind, wat in November verlede jaar weggeraak het.

“Die lede het besluit dat aangesien Eljada-Kairos Skool aan die Oudtshoorn Polisiestasie grens, hulle graag iets spesiaal wou doen vir die kinders daar, en ook van die geleentheid gebruik wou maak om vir die kinders te leer dat die polisie altyd daar is om hulle te help en dat hulle nie hoef bang te wees vir ons nie,” sê Visser.

Die lede van skof C het geld tussen mekaar ingesamel en lekkergoed daarmee gekoop en vir elke kind ’n pakkie opgemaak.

Volgens Visser was dit vir die lede opmerklik hoe baie so ’n klein pakkie lekkers vir die kinders beteken het.

Hennie Baartman, skoolhoof van Eljada-Kairos het die lede bedank dat hulle tyd uit hul dag afgeknyp het om die kinders te verras.

“Die kinders het die bederf ongelooflik baie geniet,” sê Baartman. (Deur Angelique Erasmus)