Staatmaker terug by die Oudtshoorn Munisipaliteit

Anel Berry Foto: Die Hoorn

Anel Berry Foto: Die Hoorn

SY het nou weer tuis gekom, sê Anel Berry wat die afgelope Maandag as kantoorbestuurder vir die speaker van die Oudtshoorn-raad, Julia le Roux, begin werk het.

Berry was van 1990 tot 2012 in diens van die Oudtshoorn Munisipaliteit as onder meer sekretaresse en administrateur vir verskeie munisipale bestuurders. Sy het saam met dié take ook ’n voormalige burgemeester, Diane de Jager, bygestaan tydens haar termyn as burgemeester.

Die altyd bekwame en hulpvaardige Berry is in 2005 aangewys as die Suid-Kaap se sekretaresse van die jaar.

Sy het egter in 2012 die munisipaliteit verlaat en die pos aanvaar as bedryfsbestuurder/kiesafdelingsbeampte van die DA se Oudtshoorn-kiesafdeling. In Februarie 2016 is sy aangestel as streekkoördineerder vir die DA Oosstreek (Streekkantoor George), wat uit 14 munisipaliteite/kiesafdelings bestaan.
Ook tydens haar werkstermyn by die DA is sy bekroon – in 2015 as die uitblinker en uitstaande personeellid van die jaar.

“Na ses jaar diens by die DA en 22 jaar diens by die Oudtshoorn Munisipaliteit is ek uiteindelik weer terug. Ek het teruggekom huis toe,” het sy die week gesê
Berry sê sy wil graag ’n verskil maak op Oudtshoorn. “Die gemeenskap ken my en het ek in my 22 jaar by die munisipaliteit altyd my bes gelewer tot voordeel van die belastingbetaler.”