Raad eenparig dat ‘kritieke vakante’ poste gevul moet word

Deur Garnett Wicomb
DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het Dins­dag­oggend tydens ’n spesiale raadsvergadering eenparig besluit om alle kritieke vakante poste in die onderskeie direktorate van die munisipaliteit te vul.

Die voorstel deur die onderburgemeester, Noluthando Mwati, is deur raadslid Jerome Lambadjeen gesekondeer.

Die besluit om nou die poste te vul volg nadat die burgemeesterskomitee, hoofswepe van al die politieke partye en senior bestuur daaroor besin het.

Volgens die verslag het die onderskeie direkteure voorleggings ten opsigte van die vulling van die vakante poste waarvoor daar begroot is, gemaak.

Mwati het beklemtoon dat dit nie enige bykomende uitgawes vir die raad sal meebring indien die poste gevul word nie.

Volgens die verslag is daar tans agtien vakante poste wat gevul moet word.

In die aanbeveling word dit ook duidelik gestel dat werknemers “in die poel” voorkeur kry sowel as voormalige werknemers met hangende arbeidsake teen die munisipaliteit.