Munisipaliteit wen met Rosevalley-projek

Shehaam Sims (waarnemende bestuurder: menslike nedersettings) met die toekenning wat die Oudtshoorn Munisipaliteit verower het. By haar staan van links Chris Koch (waarnemende direkteur tegniese dienste), Johan Fourie (raadslid belas met tegniese dienste), Allan Paulse (munisipale bestuurder) en Colan Sylvester (burgemeester).                               Foto verskaf

Shehaam Sims (waarnemende bestuurder: menslike nedersettings) met die toekenning wat die Oudtshoorn Munisipaliteit verower het. By haar staan van links Chris Koch (waarnemende direkteur tegniese dienste), Johan Fourie (raadslid belas met tegniese dienste), Allan Paulse (munisipale bestuurder) en Colan Sylvester (burgemeester). Foto verskaf

• Departement Menslike Nedersettings is provinsiale wenner

Deur Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit se departement menslike nedersettings is aangewys as die wenner van ’n provinsiale toekenning vir die bouprojek in die Rosevalley woonbuurt by die ingang van Oudtshoorn vanaf De Rust en Dysselsdorp.

Oudtshoorn was die wenner van die afdeling vir die beste program vir die opgradering van ’n informele nedersetting by die Wes-Kaapse Govan Mbeki Toekenningsaand wat verlede Vrydag by die Lord Charles Hotel in Somerset-Wes gehou is.

Die Govan Mbeki Toekennings vereer jaarliks uitstaande werk ten opsigte van bouprojekte in die provinsie, en bekroon munisipaliteite, kontrakteurs, ontwikkelaars en ander rolspelers.
Oudtshoorn deel die toekenning met die Stellenbosch Munisipaliteit. Oudtshoorn was verlede jaar die naaswenner in die afdeling.

Die waarnemende bestuurder van die departement, Shehaam Sims, sê sy glo Oudtshoorn het die toekenning gewen omdat dié projek talle eerstes vir Oudtshoorn ingesluit het.

Hieronder tel die beginsel van verdigting wat dit moontlik maak om meer gesinne te huisves omdat eenhede gemiddeld 180 m² in plaas van 200m² is en dubbelverdiepingeenhede en skakelhuise insluit. Ook nuut was die aanlê van elektrisiteit ondergronds.

Sy sê die gehalte en akkuraatheid van die werk van die kontrakteur is ook in aanmerking geneem by die besluit oor die wenners van toekennings.

Die projek wat uit 335 huise bestaan, het in Ja­nu­arie 2016 afgeskop, met 100 huise wat reeds oorhandig is. Al 335 huise sal teen middel-Oktober aan hul eienaars oorhandig wees.

Die burgemeester, Colan Sylvester, het die menslike nedersettings-departement geluk gewens met die prestasie, terwyl die munisipale bestuurder, Allan Paulse, almal betrokke by die Rosevalley-projek bedank het.