Hof stop oorplasing van sersant na landdroskantoor

• Regter tik polisiehoof oor vingers

’N POLISIEBEAMPTE van Oudtshoorn, sers Armand Gerber, het verlede week ’n arbeidshofsaak teen sy werkgewer gewen nadat sy vakbond, Soli­dariteit, namens hom aansoek gedoen het vir ’n dringende hofbevel dat hy nie vir diens oorgeplaas word na die Oudtshoorn Landdroshof nie.

Solidariteit het die saak na die Arbeidshof geneem nadat die stasiekommissaris van Oudts­hoorn, brig Levona Januari, nie gereageer het op skrywes en versoeke van Gerber, ’n maatskaplike werker en Solidariteit dat Gerber nie ’n wapen mag dra en aan gevaarlike situasies blootgestel mag word nie.
Gerber ly aan post-traumatiese stresversteuring as gevolg van ’n traumatiese voorval terwyl hy in 2014 op diens was.

Hy is deur die SAPD onbevoeg verklaar om vir die volgende vyf jaar ’n vuurwapen te dra en tydelik in die aanklagkantoor geplaas waar hy administratiewe take verrig.

Regter Anton Steenkamp het in sy uitspraak verlede Vrydag in Kaapse Arbeidshof daarop gewys dat polisiebeamptes in die hof egter altyd gewapen moet wees, daagliks gereed moet wees om gevaarlike situasies te hanteer terwyl gevangenes vervoer word asook in die hofgebou.

Hy het Januari gekritiseer omdat sy nie op enige van dié skrywes aan haar oor Gerber gereageer het nie en dus die stappe van die Safety and Security Bargaining Council-ooreenkoms tussen die SAPD en drie vakbonde verontag­saam het.

“Dit is onwettig. En haar poging om haar verpligtinge te ontduik deur te beweer dat sy nooit (Grobler se vertoë ontvang het nie) is gebaseer op ’n verdraaiing van die waarheid.”

Hy het ook bevind dat Januari onder eed “nie oop kaarte met die hof gespeel het nie” en haarself weerspreek het oor die ontvangs van Gerber se voorlegging aan haar kantoor.

Die regter het gelas dat Gerber moet voortgaan met administratiewe werk in die aanklagkantoor.
Hy het ook die SAPD verbied om tugstappe teen Gerber te doen of sy salaris van hom te weerhou.