Droogtetariewe waarskynlik eersdaags op Oudtshoorn ingestel

Deur Liesel le Roux
DAAR is ’n sterk moontlikheid dat droogtetariewe eersdaags in die Groter Oudtshoorn ingestel gaan word.

Die damvlak van die Raubenheimerdam waar Oudtshoorn se drinkwater vandaan kom, het Dinsdag – soos verlede week – op 48 persent gestaan. Die Mellvilledam wat die Raubenheimerdam voed, is egter 100 persent vol.

Afhangend van reënval die week bestaan die moontlikheid dus dat droogtetariewe inwoners van die Groter Oudtshoorn se voorland is.

Na verneem word is die berggebied in die Raubenheimerdam se opvangsgebied tans so droog dat water in die grond verdwyn en nie afloop na die dam toe nie.

Die raad het onlangs goedkeuring verleen dat die huidige watertarief met 10% verhoog kan word indien die vlak van die Raubenheimerdam tot tussen 40% en 50% daal.

Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het op navraag van Die Hoorn aangedui dat inwoners vroegtydig ingelig sal word indien droogtetariewe ingestel word.

Inwoners wat as deel van hul deernissubsidie die eerste ses kiloliter water gratis kry, sal nie geraak word deur ’n verhoging in tariewe nie.