Die Oudtshoorn Munisipaliteit het die week as volg gereageer op die brief oor die water wat uit die reservoir by Zeelandsnek loop:
Die water wat vanaf die Zeelandsnek-reservoir op Oudtshoorn na die dorp gevoer word, gaan eers deur ’n drukverlagingskamer ongeveer 150 meter vanaf die reservoir.
Syferwater vanuit die ou reservoir word ook na die bak gevoer om waterverliese tot die minimum te beperk.
Alle moonlikhede van waar die waterlek vandaan kon kom, is ondersoek en daar is vasgestel dat dit slegs by die drukverlagingskamer is.
Die vlak binne in die drukverlagingskamer word beheer deur ou konvensionele balkleppe.
Gedurende die vroeë oggendure wanneer verbruik baie laag is, bou die vlak in die drukbeheerkas op en moet die kleppe die vloei afsny – wat nie gebeur het nie.
Die kleppe is vervang, maar die probleem het weer opgeduik en by nadere ondersoek is gevind dat die balle van die kleppe fyn gaatjies in gehad het wat veroorsaak het dat dit water inlaat en sodoende nie saam met die watervlak beweeg nie, maar sink.
Dus bly die klep in ’n oop posisie en gevolglik loop die kas oor en die water spoel teen die kop af.
Die balle is reeds op bestelling, maar afleweringstyd daarvoor is vier weke.