Oudtshoorn kry mobiele kliniek vir diere!

Dr Christiaan Blignaut help ’n hondeienaar met sy hond tydens ’n onlangse uitreikaksie  op Oudtshoorn deur die dorp se dierewelsynsorganisasies.     Foto verskaf deur ACT

Dr Christiaan Blignaut help ’n hondeienaar met sy hond tydens ’n onlangse uitreikaksie op Oudtshoorn deur die dorp se dierewelsynsorganisasies. Foto verskaf deur ACT

Deur Liesel le Roux
’N NUWE mobiele dierekliniek wat veeartsenydienste op ’n gereelde basis na die gemeenskap sal kan neem, behoort binne twee weke op Oudts­hoorn in gebruik te wees.

Dié dierekliniek sal fokus op diere in woonbuurte waar mense nie altyd oor vervoer of die middele beskik om ’n veearts te besoek nie.

Hierdie goeie nuus is die week deur dr Christiaan Blignaut, staatsveearts, teenoor Die Hoorn bevestig.
Volgens Blignaut sal daar selfs operasies soos sterilisasies uitgevoer kan word in die bussie waarin die mobiele kliniek ingerig word.

Blignaut doen reeds die afgelope maande op ’n gereelde basis saam met welsynsorganisasies uitreikveldtogte in die Groter Oudtshoorn.

Vanessa Engelbrecht, voorsitter van die Animal Care Team (ACT) – een van die dorp se welsynsorganisasies – het gesê ACT is opgewonde en dankbaar oor die nuwe mobiele kli­niek en die moontlikhede wat dit skep om die dorp se diere te help.

“Ons beoog ’n weeklikse sterilisasiekliniek een oggend per week en het reeds ’n lisensie daarvoor verkry.
“Die eerste sterilisasiekliniek sal op 18 Julie by die staatsveeartskantoor in Van der Rietstraat plaasvind omdat die bussie nog nie dan al gereed sal wees nie.”