Munisipale bestuurder dalk volgende week aangewys

’N Nuwe munisipale bestuurder vir die Groter Oudtshoorn gaan na verwagting  volgende Woensdag, 7 Desember, by die raad se maandelikse vergadering aangewys word.

Die raad het Dinsdagoggend tydens ’n spesiale raadsvergadering die aanstelling van ’n nuwe munisipale bestuurder “in komitee” bespreek, wat beteken het dat die publiek, lede van die media en amptenare die raadsaal tydens die bespreking moes verlaat. Dit is normale prosedure by die bespreking van personeelaangeleent­hede in die raad.

Volgens burgemeester Colan Syl­vester is die saak uitgestel omdat die komitee betrokke by die aanwysing van ’n nuwe munisipale bestuurder nog sekere inligting as deel van die proses moet verifieer.

Dié sleutelpos in die munisipaliteit is sedert 2012 vakant toe regter An­dré Blignaut in die Kaapse Hoogge­regshof die aanstelling in 2011 van Than­dekile Mnyimba as munisipale bestuurder ongeldig verklaar het.

Die destydse finansiële hoof, Deon Lott, het daarna in die pos waargeneem tot met sy dood na ’n massiewe beroerte in April 2013. Hierna was die pos hoofsaaklik in die hande van Ronnie Lottering, die voormalige direkteur gemeenskap­dienste, totdat Allen Paulse in die admini­strasie­tydperk as waarnemende munisipale bestuurder na Oudtshoorn gestuur is.

  • Die Hoogeregshofsaak waarin Mnyimba se aanstelling ongeldig verklaar is, is juis einde 2011 deur Paulse ingedien.

Paulse, ’n voormalige burgemees­ter van die Paarl, adjunkstadsklerk van George en munisipale bestuurder van die Breedevallei Munisipaliteit, was in 2011 een van die kandidate op die Oudtshoorn Munisipaliteit se kort­lys vir die pos van munisipale bestuurder.

Paulse het aangevoer dat Mnyimba nie oor die vaardighede vir die pos of die vyf jaar ervaring op senior be­stuurs­vlak wat voorgeskryf word, beskik het nie, en die hof het hom gelyk gegee.

Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, het destyds as ’n party tot die saak toegetree. Hy het gesê hy het dit gedoen omdat wetgewing dit sy plig maak om toe te sien dat die aanstelling van ’n munisipale bestuurder ingevolge voorgeskrewe wetgewing geskied.

  • By Dinsdag se raadsvergadering het die raad besluit om die kontrak van Thomas Matthee as waarnemende direkteur gemeenskapdienste  te verleng, hangende toestemming van die minister.

Onderhoude vir die permanente aanstelling van iemand as direkteur gemeenskapsdienste word die week gevoer.

Die raad het ook Dinsdag besluit om te versoek dat die aanstelling van Chris Koch, waar­nemende direkteur tegniese dienste, verleng word.

 

(Deur Liesel le Roux)