Besonderse eer val Nel te beurt

Thijs Nel by een van sy keramiekwerke getiteld Togetherness.


Besonderse eer val Nel te beurt
’n Besonderse eer het Thijs Nel, gevierde kunstenaar van Oudtshoorn, te beurt geval! Hy is genooi na die opening van die nuwe vleuel van die Montreal Museum of Fine Arts in Kanada, waar een van sy werke uitgestal word.

Die museum het Nel se werk, ’n keramiekpot, in 1998 by ’n kunsuitstalling “Down to Earth” in die LongHouse Reserve in Long Island in Amerika gekoop. Die Longhouse Reserve is die belangrikste stigting wat kuns in Amerika bevorder en het ’n aantal Suid-Afrikaanse keramiekkunstenaars genooi om elkeen twaalf werke daar uit te stal.

Volgens Nel was die uitstalling ’n hoogtepunt in sy loopbaan deurdat tien van sy werke binne ’n uur verkoop was.

Jack Nenor Larsen, president van die LongHouse-stigting, het persoonlik ook een van Nel se potte vir sy eie versameling gekoop.

Die opening van die museum se nuwe vleuel is deel van Montreal se 375ste verjaardagvieringe.

Die huidige uitstalling sluit die museum se internasionale  kunsversameling in waar onder andere van die wêreld se voorste kuntenaars soos Picasso, Matisse, Otto Dix, Salvador Dali en die Britse beeldhouer Henry Moore se werke vertoon word.

Nel sê dit is ’n eer om in sulke gevierde geselskap te verkeer.

Nel, wat ’n pragtige gedrukte uitnodiging ontvang het, sê hy kon weens die groot afstand en koste nie die opening bywoon nie, maar voel baie geëerd dat hy genooi is.

Die pot wat in Montreal uitgestal word, is sowat 75 cm hoog en het ’n Afrikamotief.

  • Nel is op 73-jarige ouderdom nog baie gedissiplineerd, aktief en produktief as keramiekkunstenaar. Hy skilder en beoefen feitliks nog daag­liks kuns.

Hy sê sy dryfkrag is steeds om soos altyd die wêreld om hom mooi te maak.

Sy lowerryke tuin, wat vol van sy potte en keramiekwerke is, is as’t ware ’n sprokieswêreld waar sy kuns en die plantegroei mekaar aanvul.

Nel dink steeds vernuwend en dit vind neerslag in sy werk.

Die laaste tyd eksperimenteer hy met driedimensionele kunswerke van papier.

“Ek was nog nooit rerig deel van die kontemporêre hoofstroomkuns en proteskuns nie.”

Volgens Nel is Europese versamelaars die grootste kopers van sy werke.