Deur Garnett Wicomb
INWONERS van Oudtshoorn gaan in die 2018/ 19-boekjaar byna 11% meer betaal vir vullisverwydering. Eiendomsbelasting sal met 7,2% styg, elektrisiteitstariewe met 6,84%, watertariewe met tussen 6,2% en 11,2%, en riool met 8% – volgens die konsepbegroting van die munispaliteit wat saam met die GOP deur die burgemeester, Colan Sylvester, ter tafel gelê en eenparig deur die raad aanvaar is.
Sylvester het in sy begrotingsrede ’n beroep op raadslede, die publiek, sakelui en ander rolspelers gedoen om die imbizo’s wat in al 13 wyke gehou word by te woon en verdere insette te lewer sodat die begroting teen einde Mei finaal goedgekeur kan word.
Die operasionale begroting beloop net meer as R646 miljoen, sowat 6,79% meer as die vorige jaar en die kapitale begroting R55,94 miljoen, waarvan R44,94 miljoen van die nasionale en provinsiale regering ontvang word..
Die kapitaalbegroting behels R27,95 miljoen vir water-infrastruktuur, R4,36 miljoen vir elektrisiteit, R2,7 miljoen vir sanitasie, R2,37 miljoen vir vulisverwydering, R4,5 miljoen vir paaie-infrastruktuur, R6,21 miljoen vir sport- en rekreasiefasiliteite, R1 miljoen vir gemeenskapsprojekte en ’n verdere R6,86 miljoen vir ander projekte.
Volgens Sylvester bevind die munisipaliteit hulle steeds in ’n “minder as ideale” finansiële posisie en moet ’n oog daarom op die kontantvloei van die munispaliteit gehou word om seker te maak dat operasionale verpligtinge binne die voorgeskrewe wetlike raamwerk nagekom word.
Skuldinvordering het van 86% in 2016 toegeneem tot 96% tot op datum, maar verteenwoordig steeds ’n onder-invordering van R12 miljoen vir die huidige boekjaar.