Moenie dooie hond sommer net wegggooi

Dié dooie hond  - binne die geel sirkel - is met ’n tou om sy nek weggegooi op ’n oop stuk grond in Bridgton oorkant ’n skool en langs ’n biblioteek en kliniek.  Foto:  Angelique Erasmus

Dié dooie hond – binne die geel sirkel – is met ’n tou om sy nek weggegooi op ’n oop stuk grond in Bridgton oorkant ’n skool en langs ’n biblioteek en kliniek.  Foto:  Angelique Erasmus

Liesel le Roux en Angelique Erasmus
DOOIE honde word gereeld op oop ruimtes in Bridgton en Bongolethu in Oudtshoorn weggegooi, sê Niklaas Muller van Oudtshoorn.

Muller het Maandag op die Facebook-blad Oudtshoorniete staan saam geskryf dat die karkas van ’n swart hond met ’n tou om sy nek Vrydag op die oop stuk grond agter die Bridgton Biblioteek gegooi is.

Dié oop stuk grond grens aan die Bridgton Kli-niek met die Laerskool Bergsig oorkant die pad. Kinders speel dikwels op dié stuk grond.

Volgens Muller, wat in die omgewing woon, bel hulle gewoonlik die munisipaliteit wanneer honde se karkasse daar neergegooi word, en kom verwyder hulle dit. In hierdie geval egter was daar volgens hom mense van die munisipaliteit, maar is die karkas nie verwyder nie.

Odette Claassen-Streicher, onder-voorsitter van Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN), sê so ’n karkas hou ’n gesondheidsgevaar in.

“Die hond kon hondesiekte gehad het en ander honde kan dit aansteek en so die siekte versprei. Dit is ook onhigiënies en lok onder meer vlieë.”

Sy sê mense kan diere wat vrek in hul erwe begrawe of die munisipaliteit bel om die dooie dier te kom verwyder.

“As honde siek is, kan hulle ODIN skakel. Ons sal die hond kom oplaai.”

Sy sê egter die persepsie dat hondesiektes aan-steeklik vir mense is, is nie korrek nie. “Ons hoor gereeld daar is kinders op die werf en hulle is bang die kinders word siek.”

• ODIN kan by 044 203 3927 gekontak word.