DAAR is nog geen klagtes van aanranding of diefstal by Oudtshoorn se stortingsterrein ontvang sedert ses tydelike sekuriteitswagte op 19 April deur die munisipaliteit daar aangestel is nie, sê die Oudtshoorn Munisipaliteit in ’n persverklaring.
Die wagte, wat almal voorheen informele herwinningswerk by die stortingsterrein – beter bekend as die Tiep – gedoen het, is aangestel nadat mense na bewering by die Grootkop Stortingsterrein aangeval en besteel is.
Die ses sekuriteitswagte is van Maandag tot Vrydag tussen 08:00 tot 17:00 en Saterdae vanaf 08:00 tot 14:00 op diens. Dié tydskedule geld ook vir openbare vakansiedae.
“Toegang tot die stortingsterrein buite hierdie ure is op eie risiko en word nie aanbeveel nie, het die munisipale bestuurder, Allen Paulse, gesê.
Die wagte is aange stel na samesprekings tussen die munisipaliteit en informele herwinners oor die beweerde aanvalle en diefstal op die stortingsterrein Die volgende stappe is geneem om toegangsbeheer en sekuriteit daar te bevorder:
• Veiligheidsbaadjies is aan die sekuriteitswagte uitgereik sodat hulle geïdentifiseer kan word deur die munisipaliteit en publiek;
• ’n Klein vraghouer is as kantoor by die ingang vanaf die hoofpad geplaas met ’n ketting as toegangsbeheermeganisme;
• Rekord word gehou van afval wat na die terrein kom, waarna die sekuriteitswagte voertuie vergesel tot by die stortingsterein..
“Die munisipaliteit is daartoe verbind om die nodige dienste aan die inwoners van die Groter Oudtshoorn te lewer. Voorsiening van basiese diens te aan alle inwoners op ’n omgewings-volhoubare wyse is een van ons belangrikste doelwitte,” sê Paulse.