Skuldlas van R54 miljoen iets van die verlede
Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit se Eskom-skuldlas van R54 miljoen is afbetaal.
Dit is ’n bewys van die positiewe resultate van die munisipale finansiële herstelplan, sê die dorp se burgemeester, Colan Sylvester.
“Eskom het in ’n stadium gedreig om die dorp se ligte af te skakel nadat die vorige administrasie nie hul Eskom-rekening betaal het nie. Die betaling van hierdie groot skuldlas beskou ons as een van die groot prestasies van die huidige administrasie wat in Augustus verlede jaar die beheer van die munisipaliteit oorgeneem het.”
Sylvester sê die skuld kon afbetaal word as gevolg van die noukeurige implementering van die finansiële herstelplan wat opgestel is om Oudtshoorn uit die finansiële verknorsing te kry wat die dorp in administrasie laat beland het.
“Die bepalings van die ooreenkoms ten opsigte van die Eskom-skuld is ten volle deur die muni- sipaliteit nagekom. Die munisipaliteit wag nou net op die terugskrywing van die rentekoste op die rekening soos ooreengekom met Eskom.”
• Die finansiële herstelplan wil verseker dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge kan nakom en basiese dienste aan sy gemeenskap kan bied.
Die plan is goedgekeur en geïmplementeer na die provinsiale intervensie in 2015 en vereis dat die munisipaliteit gereeld verslag moet lewer oor vordering met die implementering daarvan.
Die jongste terugvoer was by ’n raadsvergadering op 26 Oktober.
Die finansiële hoof van die munisipaliteit, Felix Lötter, het op dié dag die raad ingelig dat verskeie befondsingsversoeke aan die provinsiale regering voorgelê is om die implementering van die plan te handhaaf.
Die munisipaliteit wag tans op terugvoer.