Donkiekar weer ’n opsie…

met Arno Greyling

Teen die einde van verlede week het die regering weer eens gesorg dat die algemene publiek tot op die knieë gedwing word. Letterlik en figuurlik.

Letterlik, want soms voel dit of net ’n gebed, of dan nou gebede, ons kan red van hierdie malligheid. Van gister af sou dit die eerste keer wees wat brandstof meer as R17 per liter in die binneland kos. Petrol gaan op met R1,00 per liter, diesel met R1,24 per liter, paraffien met R1,39 per liter en gas met R1,79 per kilogram.

Soos gewoonlik plaas die regering die skuld op ’n verswakte rand en duurder pryse. Dit is slegs gedeeltelik waar.
Dit is so dat die prys van ’n vaatjie Brent ru-olie op byna $85 die hoogste per kilogram die afgelope vier jaar was.

Die styging van die oliepryse word toegeskryf aan die hernude planne van Amerika om Iran met sanksies te straf. (Ai, hoor ek ’n paar lesers wat sug: dis al weer Donald Trump).

Klaarblyklik produseer Iran 4 persent van die wêreld se ru-olie. Die argument hou dus, na my beskeie mening, maar baie min water.

Word die prys van die olie dus grootliks bepaal of beïnvloed deur die produsent van 4 persent van die totale volume? Aikona.

Ons regering en media kan ’n beter poging aanwend tot ’n verskoning. Hulle is maar te bewus van die feit dat brandstofverhogings die armste van armes baie, baie hard slaan.

Elke liewe produk wat vervoer word, sal beïnvloed word. Elke rit met ’n taxi sal duurder wees. Daar word tans bereken dat stedelike inwoners van nedersettings tot 50 persent van hul maandelikse inkomste gebruik vir taxi- en treindienste.

Nee, die antwoord kom maar net weer terug na wanbestuur, swak besluite en korrupsie. Verlede maand is die verhogings deur die regering absorbeer en dit terwyl hulle moes weet dat dit net die pyn vir ’n maand uitstel. En dit was ook so. Suid-Afrika se oliereserwes is geplunder en verkoop teen 40 persent van die markwaarde daarvan. Die egalisasiefonds bestaan nie meer nie. Net ’n paar voorbeelde van wat ek aanvoer as redes vir die gemors waarin ons onsself bevind.

Om jou ’n idee te gee… slegs sowat 60 persent van die brandstofprys is die werklike koste van die produk. Meer as 25 persent gaan na die regering in die vorm van heffings. Die res gaan na ander instansies soos die Padongelukkefonds wat ook rot en kaal besteel is.

En maand vir maand dok die verbruiker op. Die gans wat die goue eiers in die land lê, is moeg, moeg om verinneweer te word.

En hoe lank moet dit nog verduur word? So lank as wat ons dit toelaat.

Tot volgende keer. Groetnis