Karwas herwin 80% van water!

Nonnie Bosman, mede-eienaar van Super Carwash, by die twee tenks en die filtreerder wat deel vorm van die karwas se watersuiweringsaanleg.

Deur Schalk le Roux
SUPER CARWASH, die motorwasbesigheid by die Queen’s Mall op Oudtshoorn, het ’n waterherwinningstelsel aangebring waarmee tot 80 persent van die water wat gebruik word om voertuie te mee te was, herwin word.

Deon Bosman wat die besigheid saam met sy vrou, Nonnie, bedryf, sê danksy die stelsel herwin Super Carwash sowat 80 persent van die 60 tot 100 kiloliter water wat per maand verbruik word.

Dit bring ook ’n ruim finansiële besparing mee danksy hul kleiner waterrekening, voeg hy by.

“Dit voel vir my dis die regte ding om water te bespaar, nie net weens die droogtenoodtoestand op die dorp en in die omgewing nie, maar ook omdat Oudtshoorn in elk geval ’n laereënvalgebied is.”

Nadat hy navorsing gedoen het, het Bosman self die watersuiweringstelsel ontwerp.

Die stelsel bestaan onder meer uit twee 2000 liter tenks, ’n swembadwaterfiltreerder en twee waterpompe.
Bosman verduidelik hoe dit werk:

Die water wat opgevang word in die waterput onder die sementblad waar voertuie afgespuit word, word met ’n pomp na die eerste tenk in die stelsel gepomp. Daar sak die ergste onsuiwerhede in die water na die onderkant van die tenk terwyl die water aan die bokant van die tenk na die twee-de tenk oorloop soos nog gebruikte water aan die onderkant van die tenk ingepomp word.

Van die tweede tenk word die water deur die waterfiltreerder gepomp na die drukspuite wat gebruik word om voertuie skoon te spuit.

’n Kraan aan die onderkant van die eerste tenk word soos nodig oopgemaak vanwaar die water met die onsuiwerhede aan die onderkant van die tenk in die rioolstelsel losgelaat word.

Volgens Bosman gaan hy nou ’n soortgelyke watersuiweringstelsel by Swartberg Karwas aanbring om die minimum-watergebruik te verseker.

Hy sê die watersuiweringstelsels wat hy installeer is ’n belegging in die toekoms.