Twee vas vir dronkbestuur

TWEE mense is die afgelope naweek op Oudts­hoorn betrap dat hulle dronk agter die stuurwiel was.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is twee mans in afsonderlike voorvalle Sondag in Voortrekkerweg vasgetrek.

’n 49-jarige man se voertuig is omstreeks 02:15 tydens ’n polisiepatrollie gestop, waarna ’n alkoholtoets getoon het dat hy onder die invloed van alkohol bestuur het.

In die tweede voorval is die bestuurder van ’n wit Toyota Corolla omstreeks 22:32 vasgetrek nadat hy sonder om die voertuig se flikkerlig aan te sit uit ’n parkeerplek gery en amper met ’n polisievoertuig gebots het. Die man het ook nie oor ’n rybewys beskik nie.