Deur Ilze-Mari Gründling
TWEE verdagtes, 28 en 37 jaar oud, het Maandagoggend in die Prins Albert Landdroshof verskyn op aanklag van die besit en handeldryf in dagga.
Die twee is Sondag (9 Julie 2017) met dagga ter waarde van R1,28 miljoen op die N1 naby Leeu-Gamka betrap.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaapse Polisie, is die bakkie waarmee die twee mans gereis het, omstreeks 16:50 deur verkeersbeamptes voorgekeer omdat die voertuig verdag gelyk het.
640 kg Dagga is agterop die bakkie gevind. Die Leeu-Gamka Polisie is ontbied waarna die mans in hegtenis geneem en beslag gelê is op die dagga.
Pojie sê samewerking tussen verskillende owerheidsinstansies om misdaad te beveg – soos in dié geval – sal voortgesit word deur die winterseisoen.