Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Polisie het die publiek se hulp gevra met hul ondersoek na die verkragting van ’n vrou op Dinsdag 3 Oktober by die weermagbasis op Oudtshoorn.
Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die vrou het na bewering tussen 02:00 en 03:00 haar kêrel wat in die militêre basis bly, se kamer verlaat na ’n argument.
Sy wou haar skoonsuster gaan soek, maar was erg onder die invloed van drank en kon nie die pad vind nie.
“Sy het ’n onbekende man raakgeloop wat voorgestel het dat hy saam met haar stap om haar skoonsuster te soek. By die offisiersklub het die man haar arm gegryp, dit gedraai en haar na ’n skuiling toe geforseer waar hy haar verkrag het.
“Sy is nie in staat om die verdagte te identifiseer nie omdat sy baie dronk was. Sy kan nie ’n beskrywing gee van sy gesig nie.”
Enigiemand wat kan help met inligting word versoek om sers Corné Thysse by tel 044 203 7500 of sel 072 278 4520 te kontak. Inligting sal vertroulik hanteer word.