Polisie behaal groot sukses

• 51 op Oudtshoorn vas vir ernstige en dwelmverwante misdade

Deur Liesel le Roux
ALTESAME 51 mense is tussen verlede Donder­dagoggend en Dinsdag deur die Oudtshoorn Po­lisie vasgetrek vir ernstige en dwelmverwante misdade – 32 mense vir ernstige misdade en 19 vir dwelmverwante misdade.

Kapt Louis Visser, polisiewoordvoerder, sê die bydrae van inwoners in dié sukses wat die polisie behaal het, kan nie oorbeklemtoon word nie. Hy het inwoners genooi om by straatkomitees betrokke te raak.
Onder die inhegtenisnames oor die vyf dae is vyf vir roof, sewe vir die besit van ge­steelde eiendom, drie vir dronkbestuur, twee vir die besit van ammunisie, vier vir die besit van toe­rusting wat vir huisbrake gebruik word, twee vir aanranding en twee vir huisbraak.

“Ons wil die publiek gerusstel dat ons hard werk om die oortreders voor die hof te bring maar ook om misdaad te voorkom,” het Visser gesê.

“Ons kan nie beklemtoon hoe belangrik die publiek se hulp en samewerking vir ons is om misdaad hok te slaan nie. Hulle is ons oë en ore en sonder hulle hulp is dit nie moontlik om ons dorp veilig te hou nie.’

Hy het die verskeie straatkommitees wat saam met die polisie werk, bedank.

Inwoners wat hierby betrokke wil raak, kan die volgende persone kontak:
• Sektor 1 (Bongolethu): Konst Diedericks (082 522 3207).
• Sektor 2 (Bridgton): Kapt Nortje (079 893 9969).
• Sektor 3 (Dorp): Kapt Du Plessis (082 821 1027).
• Sektor 4 (Plase): AO Strauss (082 444 2370).