Die water van die NA Smit Swembad was gister weer blou en skoon nadat die swembad se groen water erge verleentheid by die SWD Tweekampproewe verlede week veroorsaak het. Ook die gekraakte sementblokke langs die swembad is intussen herstel. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
DIE water van die NA Smit Swembad op Oudtshoorn was sedert Woensdag weer blou nadat troebel, groen water op Dinsdag, 17 Oktober, erge verleentheid veroorsaak het toe die SWD Tweekamproewe daar plaasgevind het. Dit is goeie nuus vir Oudtshoorn in die lig van verskeie swemgalas wat in die volgende weke by dié swembad moet plaasvind.
Teen gister was dit duidelik dat die munisipaliteit se ingryping by die swembad die afgelope week vrugte afwerp. Die gekraakte sementblokke langs die swembad is ook vervang.
Die munisipaliteit het verlede week op navraag van Die Hoorn oor die toestand van die swembad, aangedui dat dit onaanvaarbaar was en ’n ondersoek geloods is na die oorsake daarvan.
Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, sê die munisipaliteit is steeds besig om die swembad skoon te maak en dat die watergehalte nog verder sal verbeter. “Die interne ondersoek na die toestand van die swembad is steeds aan die gang.”