Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man wat daarvan aangekla word dat hy ’n pensioentrekker beroof het, is vir verdere verhoor in die Oudtshoorn Streekhof tot volgende maand uitgestel. Ronaldo Rhode word daarvan aangekla dat hy Aubrey Claassen (66) van meer as R600 beroof het wat Claassen vroeër die dag by ’n leenplek in St Johnstraat geleen het.
Katrina Claassen het getuig sy en haar man het die betrokke dag R7 00 geleen. Sy het R50 gebruik om iets te eet te koop en die res van die geld vir haar man gegee om te hou.
Volgens haar het sy Rhode die betrokke oggend by die leenplek sien rondstaan en het hy hulle later agtervolg en in Kameelweg vir ’n sigaret gevra. Sy het Rhode se getuienis dat hulle by ’n bushalte gesit en drink het, as onwaar afgemaak.
Terwyl haar man na ’n huis van ’n familielid in Kameelweg gestap het, het Rhode hom glo van agter om die nek gegryp, met ’n mes gedreig en al sy geld uit sy sak gehaal. Volgens Rhode het hy egter net R300 gevat wat Claassen hom glo geskuld het vir ’n kassetspeler.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak vir voortsetting van verhoor tot 20 Maart uitgestel.
Rhode bly in aanhouding.