Man vas ná motor mense tref

Klag van dronkbestuur word ondersoek

’N 38-JARIGE man van Zoar is Saterdag op Ladismith vir dronkbestuur in hegtenis geneem nadat hy na bewering met ’n voertuig in ’n groep mense ingejaag het.
Niemand is deur die voertuig beseer nie.

Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, het die man omstreeks 17:30 met ’n wit Mazda 323 tussen ’n groep mense by Towerkop Park ingejaag.

Cederas sê die jaarlikse rugbyderby tussen Ladismith en Zoar het dié dag ’n groot skare mense na To­werkop Park gelok, en mense het saamgedrom op die toneel waar ’n persoon met ’n mes gesteek is.
Die bestuurder van die Mazda is Sondagmiddag uit aanhouding vrygelaat en verskyn op 21 Augustus in die Ladismith Landdroshof.

Die persoon wat raakgesteek is, is Saterdagaand na die George Hospitaal.
Niemand is nog in verband met dié voorval in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting oor die voorvalle kan die Ladismith Polisie kontak by tel 028 551 8100 of 028 551 8127. Inligting sal vertroulik hanteer word.