Gevangenisstraf vir beddegoed-dief

Deur Garnett Wicomb
’N MAN wat drie duvetstelle ter waarde van R800 van sy ouma gesteel het, is in die Oudtshoorn Distrikshof tronkstraf opgelê nadat hy weer aan diefstal skuldig bevind is.

Die 33-jarige Vuyo Jojina van Bongolethu, Oudts­hoorn, met verskeie vorige veroordelings, het skuldig gepleit.

Hy het getuig dat hy die duvetstelle verkoop het om geld vir dwelms in die hande te kry.
Landdros Lorraine Samuels het met vonnisoplegging gesê die gemeenskap verwag gepaste vonnisse vir oneerlikheidsmisdade en dat ’n algehele opgeskorte vonnis soos deur die verdediging versoek onvanpas sal wees.

Jojina se ouma het getuig dat sy moeg is vir die diefstal van haar besittings.
Sy het gelukkig haar duvetstelle teruggekry.

“Die Vader weet alleen. U ouma gee verblyf en kos. Dit is om die hand wat jou voed te byt. Daar is wetge­wing om oues van dae te beskerm en dit is nie die eerste keer dat u van u ouma steel nie,” het die landdros gesê.

Jojina is tot 12 maande gevangenisstraf gevonnis waarvan die helfte van die 12 maande vir vyf jaar opgeskort is.

Hy is reeds in 2005 onbevoeg verklaar om ’n ­vuurwapen te besit.