Diefstal uit voertuie neem toe

20180117_142855-1

DAAR was die laaste tyd ’n merkbare styging in die voorkoms van diefstal uit voertuie op Oudtshoorn.

“Die aanmelding is hoër en ons is bekommerd oor die styging,” sê kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie.

“Dit is kommerwekkend dat mense steeds waardevolle items in hulle voer­tuie los, boonop sigbaar vir enigiemand om te sien. Beursies, kontant, selfone en selfs skootrekenaars word in voertuie gelos.”

Visser sê sowat die helfte van dié voorvalle vind in die nag plaas en heelwat daarvan ook oor naweke.

“Daar kan egter enige tyd van die dag of nag by jou voertuig ingebreek word. Ons vra dat mense onder geen omstandighede waardevolle eiendom in ’n voertuig los nie.

“As jy nie anders kan nie, moenie dit op ’n opsigtelik plek los nie, of sluit dit in die kattebak toe, selfs al gaan jy net vinnig iets doen. As jy jou voertuig in die nag buite parkeer, probeer dit in ’n goed beligte gebied doen.”