Borgtog geweier aan Nigeriër

Deur Garnett Wicomb
BORGTOG is verlede Vrydag in die distrikshof op Oudtshoorn geweier aan ’n Nigeriese burger, Samuel Orama, wat teregstaan op klagtes van handeldryf in en besit van dwelms ter waarde van sowat R3,6 miljoen.

Landdros Lorraine Samuels het in haar uitspraak gesê dat sy van mening is dat dit nie in belang van geregtigheid is dat borgtog aan Samuel Orama toegestaan word nie.

Volgens haar bestaan vrese dat die beskuldigde kan vlug en nie hofverskynings sal bywoon nie.

Die ondersoekbeampte, ao Jacobus Groenewald, het Orama se borgaansoek teengestaan terwyl sy regsverteenwoordiger, Thelishia Piedt, versoek het dat borgtog wel toegestaan moet word omdat die beskuldigde oor ’n vaste adres en werk beskik en nie ’n vlugrisiko is nie.

Volgens Groenewald het Orama per bus vanaf Johannesburg tot in Port Elizabeth gereis en daarna geryloop.

Hy het ’n geleentheid na Kaapstad gekry en die voertuig waarin hy ’n passasier was, is op 8 Mei vanjaar op die George-pad net buite Oudtshoorn deur die polisie voorgekeer en deursoek.

Daar is beslag gelë op ’n rooi sak met dwelms wat aan Orama behoort het.

Hy het probeer weghardloop, maar is saam met nog drie mans in hegtenis geneem.

Die klagtes teen drie mans is later deur die staat teruggetrek omdat hulle volgens Orama niks met die aangeleentheid te doen het nie.

Die saak is vir moontlike streekhofverrigtinge tot 18 September uitgestel.