’N 28-JARIGE man is saam met twee ander mans in hegtenis geneem nadat hy verlede Vrydag by Swartberg Country Manor naby Matjiesrivier ingebreek en verskeie items gesteel het.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die man deur ’n venster geklim en ’n Asusskootrekenaar ter waarde van R8 000, klerasie ter waarde van R14 000 asook twee fietse ter waarde van R36 000 gesteel.
“Die volgende oggend het die ondersoekbeampte inligting ontvang van drie persone wat met die gesteelde fietse op die Schoemanshoekpad ry. Die fietse is positief uitgeken deur die eienaar en die drie persone in hegtenis geneem. Die skootrekenaar en klere is begrawe by ’n huis naby die gastehuis gevind.”
Die eienaar, Cobus van den Berg, het op Facebook die polisie bedank: “Welgedaan aan die Oudtshoorn Polisiediens. SAPD, julle kan baie trots wees op Ludonga Vuvu, wat die saak meesterlik hanteer het.”