Cornel is jongboer-finalis

Cornel Landman.

Cornel Landman.

OUDTSHOORN het vanjaar een van die vyf finaliste vir die Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar 2017 opgelewer. Hy is Cornel Landman van die plaas Karoolusern.

Die name van die finaliste is Dinsdag bekend gemaak. Die wenners word op Woensdag, 24 Mei, aangekondig.

Landman boer al agt jaar lank op die plaas Karoolusern in die Volmoed-om­gewing naby Oudtshoorn. Hy is ’n lusern- en graanboer en bedryf ook ’n melkery, lusernmeelfabriek en voerkraal vir lammers. Toe voëlgriep in die Oudtshoorn- distrik uitgebreek het, het Landman sy volstruisboerdery gestaak en ander opsies oorweeg. Met die volop lusern in die omgewing het hy besluit om na ’n vol­voer­melkery en skaapvoerkrale oor te ska­kel en lusernlande begin vestig. Dit is hoe die lusernmeelfabriek ontstaan het.
Dit is vir hom belangrik om opko-mende lusernboere te help omdat hierdie boere oorgenoeg kennis het. “Ek het baie ingesit om staatsplase te help winsgewend maak. Opkomende produsente word net nie altyd die geleentheid gebied nie. Ek het ’n passie om opkomende produsente te help om suksesvolle boerderye van die grond af te kry.

“Ek gee alle eer aan God sonder wie ek niks sou bereik het nie.”

Landman sê jongboere is die hoofslag­aar van die landboutoekoms in Suid-Afrika. “Jongboere moet in die landbou inkom en daar bly. Dit sal verseker dat die land se landbou-ekonomie aanhou groei.”
Landman sien homself as ’n persoon wat baie hou van uitdagings wat nie maklik haalbaar is nie. “Om te sorg dat ek die uitdagings wel kan deurvoer en ’n sukses daarvan maak, omring ek my met suksesvolle produsente wat my kan raad gee. Dit gaan nie altyd vir my daaroor om suksesvol te wees nie, maar eerder om soveel as moontlik mense werk te probeer gee om sodoende kos op hulle tafels te sit.”

• Nog ’n finalis is Gert Joubert van die plaas Meulrivier in die Bo-Kammanassie.
Joubert is al 19 jaar lank by boerdery betrokke en is die afgelope 10 jaar die plaasbestuurder van Meulrivier in die Bo-Kammanassie waar daar met sagtevrugte, skape en beeste geboer word.

Joubert is hoofsaaklik verantwoordelik vir die bestuur van die apples, pere en pruime, maar is ook verantwoordelik vir die bestuur van weidings en die dag-tot-dag-bestuur van die veevertakking.

Hy is op hoogte van nuwe kultivars, opleistelsels en snoeimetodes en deel sy kennis gemaklik met ander.
Joubert sê hy is passievol oor boer en het ’n groot liefde vir die plaas en sy werkers. “Ek is positief oor landbou in Suid-Afrika en is trots om ’n produsent hier te kan wees. Ek geniet wat ek doen.

“Ek wil in harmonie met my omgewing en die gemeenskap funksioneer en glo daaraan om ’n aangename werksomge-wing te skep,” sê hy.