Wil ek afbreek of opbou?

Liesel le Roux

Mense wat nie kan saamwerk nie en mekaar verdag maak, is klaarblyklik die norm in die Groter Oudtshoorn, en dit veroorsaak ernstige verdeeldheid en probleme in die gemeenskap.

Eerstens dink ’n mens aan ons munisipale raad. Die hoofaktiwiteit tydens baie raadsvergaderings is raads- lede wat poog om vergade­rings te vertraag en te verhinder dat besluite in belang van die gemeenskap geneem word.

Tweedens is daar na wat verneem word ernstige tweespalt binne die regerende party van ons dorp.
Daar was onlangs sprake dat mosies van wantroue in DA-raadslede in leiersposisies ingestel sou word en dat daar deur mede-DA-raadslede saam in dié verband gekonkel is.

Die DA se Federale Regskommis-sie was reeds op Oudtshoorn om on-der meer dit te ondersoek.
Onder die inwoners is daar ook erge verdeeldheid wat veral op sosia-le media weerspieël word.

Mense wat op onkundige en onverantwoordelike wyse inligting wat hul-le hoor as die waarheid op sosiale media weergee en oningeligte en onbillike kommentaar lewer, dra by om tweespalt in die gemeenskap te saai.

Ongelukkig is daar ook mense wat die sosiale media vir hul eie motiewe ge/misbruik om ander op te sweep, tweespalt en wrewel te saai en selfs openbare onrus aan te spoor.

Hoewel Die Hoorn kommentaar op ons Facebookblad verwelkom, is die negatiwiteit en bespiegelry onder le-sers op die blad soms onrusbarend.

Ons vra lesers om na te dink voor-dat hulle iets plaas of kommentaar lewer. Vra jouself af: Is dit waar? Is dit billik en regverdig? Is dit afbre-kend? Dra dit by tot wrewel en wan-troue? Is dit kwaadwillig? Neem ons ander se gevoelens in ag? Ens.

Ons woon op ’n dorp en in ’n land waar rassisme nog aan die orde van die dag is en rassewrewel so dikwels op bv Facebook weerspieël word.

Hoewel baie mense al geëmigreer het, is daar baie van ons wat in Suid-Afrika wil woon. Die wat hier wil bly, moet besef dat mense van alle rasse op mekaar aangewese is en dat alle welwillendes sal moet saamstaan.

Vra jouself af: wil ek afbreek of wil ek opbou, veral tov gesindhede?