Bo: Jo-Wandren Witbooi (8), word op Oudtshoorn gewys hoe om ’n regte brandslang te hanteer. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
VYFTIG kinders van vyf verskillende plaasskole uit Wolwefontein en omliggende gebiede in die Oos-Kaap, is verlede week uit hul sokkies bederf tydens ’n toer na Kaapstad wat hulle ook na Oudtshoorn gebring het.
Die toer se doelwit was nie net om die kinders na verskeie besienswaar-dighede te neem nie, maar ook om hulle bloot te stel aan die wêreld buite die grense van hulle soms moeilike omstandighede en hulle te help om te droom oor groter geleenthede as die wat hul klein gemeenskappe aan hulle bied, sê Seugnet Wilken, skoolhoof van Wolwefontein Primêre Skool.
Volgens Wilken is die kinders ook tydens die toer aan verskillende loopbaankeuses blootgestel.
Wilken en die ander merkwaardige vroue wat saam met haar die leerders op die toer geneem het, glo kennis is mag en deur die kinders daarmee te bemagtig mens ’n merkwaardige verskil in die samelewing kan maak.
Op Oudtshoorn het die kinders kennis gemaak met volstruise, die Kango Grotte en selfs kans gekry om saam met die Oudtshoorn Brandweer brandweermanne en -vroue te speel!
Hul besoek aan die dorp is afgesluit met ’n opwindende besoek aan die Air Mercy Service (AMS)-helikopter se basis net voordat die helikopter moes opstyg en uitvlieg na ’n noodgeval elders.
• Die toer is moontlik gemaak deur onder meer finansiële donasies, asook donasies van kos en verskeie aktiwiteite.
Die kinders van Wolwefontein Primêre Skool, Drie Kuilen Primêre Skool, Kleinpoort Primêre Skool, Toekomst Primêre Skool en Beulah Primêre Skool is tussen sewe en 17 jaar oud en het vanaf 7 tot 13 April per bus na Kaapstad en terug gery. Hulle het in Kaapstad onder meer Tafelberg, die Two Oceans Akwarium en Robbeneiland besoek en op Mosselbaai die Diaz Museum.
Volgens Wilken is die skole egter deur die Wes-Kaapse Departement van Onderwys (WKOD) geoormerk om te sluit omdat hul leerdergetalle te laag is.
Sy sê van die onderwysers by die skole is reeds meer as 30 jaar daar betrokke, en hul ooglopende passie en liefde vir hul werk is duidelik. Die kinders self was tydens hul besoek aan Oudtshoorn ongelooflik beleefd met die respek wat hulle vir hul onderwysers het, amper tasbaar.