Welkom op Oudtshoorn!

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Ons hoop inwoners van Oudtshoorn en die streek gaan van Saterdag af die geleentheid gebruik om ’n draai te maak by die Suid-Afrikaanse trom­poppiekampioenskap wat op die dorp plaasvind.

Dit is voorwaar ’n besonderse ge­leentheid vir ’n plattelandse dorp soos Oudtshoorn om gasheer te speel vir die land se beste trompoppiespanne, hul afrig­ters, spanbestuurders en fami­lielede.

Daar is geen ander plattelandse dorp in die land wat so presteer in dié sportkode en so ’n groot bydrae daar­in lewer soos Oudtshoorn nie. Daarvoor verdien ’n groep inwoners – die meeste ouers en onderwysers – wat die afgelope sowat 20 jaar ’n yslike rol gespeel het om die sportkode hier te laat groei, ’n klop op die skouer.

Wat ’n prestasie is dit nie dat sewe van die 37 deelnemende spanne van dwarsoor die land van die Groter Oudtshoorn kom nie! Welgedaan aan dié spanne uit eie geledere!

• Oudtshoorn is bevoorreg om dié wintervakansie weer die Oudtshoorn Sportfees aan te bied met honderde jong deelnemers van dwarsoor Suid-Afrika wat hier deelneem. Dit is die eerste volwaar­­dige sportfees nadat dié inisia­tief doodgeloop het toe die Oudtshoorn Munisipaliteit in 2015 onder admini­strasie geplaas is en iets waaraan die munisipaliteit sedert 2016 hard ge­werk het om weer te laat realiseer.

Welkom aan die trompoppies en al die an­der jong sportlui van elders wat die vakansie hier deelneem –  fietsry­ers, baldansers, skaakspelers, ens, ens, sportbeamptes en familielede.

Ons glo die bekende Klein Ka­roo-gasvryheid, die natuurskoon, plattelandse atmosfeer en toerismebesiens- waardighede sal jul besoek aan  Oudts­hoorn onvergeetlik maak.