Deur Liesel le Roux
Die redding van 12 jong sokkerspe-lers en hul afrigter die afgelope week uit ’n grot diep onder die aarde in Thailand het baie mense se geloof in hul medemens herstel. Hoe waar is dit nie wat iemand die afgelope week iewers geskryf het nie:
Ongelooflike dinge gebeur as verskillende mense saamwerk met die oog gerig op ’n gesamentlike doelwit.
Die wyse waarop mense van oral af begin saamwerk het om die kinders te red en die reddingspersoneel te ondersteun – selfs van ander kontinente af – kan ons weer laat glo dat mense ook kan bou en opbou en heelmaak.
Ons leef in ’n tydvak waarin geskille en sarkasme en kritiek die vals wysie geword het van baie se lewens. Verkleinerende woorde, gevoelose dade, eiegeregtigheid en eiebelang is amper ’n lewenswyse.
Maar vir twee weke in 2018 het mense gegee waar hulle kon om ’n groep kinders uit die kloue van die dood te red. Skielik het dit nie saakgemaak hoe enigiemand lyk of watter taal hul praat nie. Daar was diegene wat ure lank kos vir die kinders en reddingswerkers gekook het; ingenieurs wat dag en nag water weggepomp het van die grot; spesialis- duikers wat alles gelos en vrywillig na ’n vreemde land gereis het om kinders se lewens te gaan red.
Daar was ook tragedie toe een van dié vrywilligers, Saman Kunan, aan ’n tekort aan suurstof gesterf het nadat hy suurstofhouers vir die kinders en hul redders die grot ingeneem het.
Ek was die afgelope weke aangegryp deur hierdie menslike drama. Nie net omdat daardie kinders my kinders kon wees nie, maar oor die menslikheid, die omgee, die goedheid, die vasberadenheid, doelgerigtheid en dapperheid van my mede- mens.
Mag ons almal iets hieruit leer.
– Liesel le Roux