Redakteursbrief: Dis ons eie mense wat die rommel strooi…

ONS het waardering vir elkeen wat opstaan en hulle uitspreek teenoor die morsjorse wat ons dorpe bemors – soos een van die sms’e wat op dié bladsy geplaas is.

Ons is dankbaar vir elke man en vrou wat vrywillig loop en ander se rommel in strate en op sypaadjies optel.
Die paaie en sypaadjies en oop stukke grond op ons dorpe wat vol papiere en vullis lê, is doodeenvoudig ’n euwel en benadeel die voorkoms en hele beeld van ’n dorp.

Dieselfde geld mense wat swartsakke vol gemors of bourommel in die veld op en om ’n dorp stort. Hulle is net sulke morsjorse met geen respek vir die omgewing nie.

Die eerste wat verwyt word wanneer vullis rondlê, is dikwels “die mu­nisipaliteit”. En hoewel dit ’n muni­sipa­liteit se taak is om ’n dorp skoon te hou, is dit tog nie hulle wat in die eerste plek die gemors daar neer­gegooi het nie.

Dit is van ’n dorp se eie mense wat nie die strate, sypaadjies en oop ruimtes res­pekteer nie, en vullis neergooi.

Dit is van ’n dorp se eie mense wat so gesond­heids­probleme deur hul na­la­tigheid en luiheid veroorsaak.

Ons moet dit erken en aanspreek.

’n Paar jaar gelede is daar ongelukkig ook vir ’n tyd lank die belaglikheid op Oudts­hoorn verkondig dat jy “werk skep” wanneer jy vullis neer­gooi.

Die argument hieragter was glo dat die munisipaliteit dan iemand sal moet aanstel en betaal om dit op te tel. Hoe absurd.

Daar is egter ’n positiewe kant: Daar is mense op elke dorp wat mooi kyk na die plekke waar hulle woon en werk. Hulle is nie neergooiers nie.

Dankie tog ook vir diegene – party nie meer jonk nie – wat hul lewe lank al die sypaadjies voor hul huise en besighede skoon hou, in stand hou en nie kla dat ander dit moet doen nie.

Laat hierdie mense vir ons ’n voorbeeld wees.

Dankie vir almal wat nie neergooi nie, wat vullisdromme gebruik, wat hul vullis weekliks uitsit vir munisipale verwydering, of dit na ’n stortingsterrein neem.